|
Die LekkerBek Reis... Op soek na
lekkerte
Deur
Wirie Rust
Die Begin
van LekkerBek
Kersfees 2008 – ons is baie opgewonde want die hele
gesin, dis nou André
die Groot Grys Beer, Shie vir sy kinders, Mie - dis
ekke Wirie, so genaamd deur my kinders en word ook
sommer Wir genoem deur my vriende, Andanté
ons dogter en Arné
ons seun, gaan op Kersdag Malawi toe vir ‘n Malawi Meer
vakansie.
Die enigste probleem is dat daar besluit is dat elkeen betaal
vir homself. Ek is ‘n konsultant, en gee besighede raad
om hulle bemarking te verskerp. Wie soek nou sulke raad
in Desember? Al raad wat mense soek, is watter geskenk
om te koop. Ek beter maar begin bak en kook, want dit
kan ek doen – so besluit so gedaan. Ek bak, Andanté
neem foto’s met die mik en druk en ek laat weet my
vrinde. “Ek verkoop kos!”
Vrinde eet al jare lekker aan my kos, en skielik het ek
bestellings – genoeg om myself Malawi toe te vat.
Enigste probleem is, ek het lanklaas so baie gestaan, ek
lyk later soos ‘n haarnaald, kan nie regop kom nie! Ek
het blase op my hande van die Krisms Biscotti mooi fyn
sny, en elke houer in die huis is gevul met my “Gourmet
Gift Basket” goodies.
Later moet die familie help met die pak en linte
omdraai! Dis rooi met polka dot en strepe en swart en
silwer linte met silwer balletjies. Dis pragtig, ek dink
ek is baie oulik en my kliente is in hulle skik. Ek is
gedurig kort aan iets, of ‘n boks, lint, koekie of
sakkie soos die bestellings instroom.
Eindelik vertrek Gauteng see toe, en ek kan asem skep.
Krismis vir die familie? Skoon daarvan vergeet! Ek
stap met my Rottweilers, waarvan ek op daardie stadium
10 het! Twee grotes en 8 kleintjies, Bera Babuscka my
geliefde teef se kleintjies.Staptyd met die Rottweiler
familie, is dinktyd. Ek besluit om vir André ‘n pakkie
te maak met allerhande lekker goedjies, want eintlik is
hy maar net ‘n LekkerBek.
En net daar tussen die Rottweilers wat snuffel en snuif,
besluit ek, watse ge-gourmet giftbasket? Ek noem hierdie
besigheid “LekkerBek”!
Ek self kan verseker nie al die LekkerBek goed bak en
maak nie, ek sal moet Tannies gaan soek oor die hele
land – en daar is baie – wat lekker goed maak, en my
mandjies daarmee volmaak.
Ons baken die land in streke af, vir elke streek moet
ons LekkerBek goed gaan soek en so begin ons LekkerBek-Reis...
Die Groot
Karoo LekkerBek Reis
Victoria Wes
Ek is ‘n Karoo-kind. Dit is my eerste bestemming. Sommer
vir Ouma Marie in Victoria Wes gaan kuier en vir Lood,
een van my Rottweiler seuntjies plaas toe vat, na Toi,
my broer se seun. Ek en Andanté spring in die bakkie, en
ry af plaas toe, met Lood op die agtersitplek. Ons ry
Kimberley oor, want dan kan ons meer stop as Lood ‘n
behoefte het. Die pad gooi ons elke nou en dan af, want
hulle bou en gooi slaggate toe, seker nou maar vir die
Sokker
Wêreldbeker. Weet nou nie juis wie in daai vlak
gaan ry nie, maar ten minste word daar gewoel en
gewerskaf. Ons ry in by Kambro padstal, maar toe ons met
Lood uitklim kom daar twee sulke stywebeen werfhonde
aangestap, en ek en Lood spring inderhaas terug in die
bakkie. Besluit maar om met die terugkomslag daar in te
ry as ons nie ‘n viervoetige dierasie in die bakkie het
nie.
Ouma Marie bly in die ACVV outehuis, en ons bly ook
sommer daar. Lekker met ‘n matras op die vloer, en kan
heeldag en nag kuier en stories vertel. Ouma Marie kook
elke dag vir haar lekker huiskos in haar klein kombuisie.
Toi wag vir Lood toe ons daar kom. Dit is eerste liefde,
maar my hart is baie seer, want my Lood Seuntjie het ek
grootgemaak, en nou moet ek afskeid neem. Ek huil vir
Lood en Toi en Ouma en Andanté en die bakkie sopnat! En
weg is Lood, Rottweiler gebore in my huis in
Johannesburg, en nou is hy ‘n Karoo plaashond! Met ‘n
werf wat 104 kilometer groot is! Salig.
Beaufort Wes
Maar ek is in die Karoo om LekkerBek goed te soek. My
skoonsuster Koeks vertel my van die Nigrinis wat lekker
olywe en knoffel groei en inlê
op die plaas Rhenosterkop.
Sy wil bel om te hoor of die mense by die huis is. Sy
bel navrae. Ek dink hierdie navrae is ‘n call centre in
een of ander baie vreemde land. Hulle weet nie van ‘n
renoster nie, hulle weet nie van ‘n kop nie - hulle weet
niks. Met die hele petalje, en Koeks wat al boser word
en tale praat, kry ons darem ‘n nommer, weet nou nog nie
eintlik hoe nie, maar ons bel, en die mense is by die
huis. Die volgende oggend ry ons Rhenosterkop toe,
anderkant Drie Susters en kort duskant Nelspoort. Ouma
ry saam, want sy het op Nelspoort skool gehou en wil
weer die wêreld
bietjie bekyk.
Daar is olyfbome langs die plaaspaadjie na die huis toe,
en ons weet dadelik ons is op die regte plek. Lekker
groot plaas opstal met baie koelte bome. Honde van alle
shapes en sizes wat ons te- gemoet kom en die wiele
ruik, met boodskappe wat kom van Bobbejaansberg. (Die
boere se naam vir Johannesburg.) Dis lekker koel in die
huis, want die wêreld
om ons is maar droog en vaal. Janine bring vir ons
allersoorte olywe om te proe. Ouma praat oor bekendes,
in hierdie
wêreld
ken almal mekaar, of is dalk verlangs familie. Ons is in
ons skik, die olywe en olie is vreeslik lekker en ons
vergryp ons so effens, vergeet dis net proe, nie eet nie!
Die botteltjies is mooi en die labeltjies nog mooier.
Groot vraag... Kan julle Johannesburg toe stuur? Ja, nee,
geen probleem. Groot verligting, die Nigrini’s is ge-organise,
en ons is in besigheid!
Lekker gelaai met Rhenosterkop Karoo Olywe, ry ons
terug Victoria Wes toe. Ons draai sommer op die ingewing
van die oomblik in by Kromrivier Stasie. Hier het my Ma
en Pa my op die trein gesit skool toe, Rhenish toe in
Stellenbosch, toe ek 7 jaar oud was. Ek onthou dit soos
gister en ek is nou 56 ! Ek kon nie lekker oor die
relings van die trein sien, om vir hulle te waai nie,
moes so oprek en sien hulle vandag nog in my geestesoog, my Pa met sy hoed in sy hand en my Ma, langs die De
Soto.
Victoria Wes Distrik.jpg)
Terug in Victoria Wes kuier ons drietjies. Ouma, Kind en Kleinkind (3 geslagte en almal Virgo’s) lekker op Ouma
se ouetehuis stoep onder die wilde wingerd. Ons drink
wyn, Andanté maak kos, Ouma gee raad, en ek sê
“Ma – los
haar, sy maak lekker kos” – Ons al drie maak lekker kos!
Die aand gaan kuier ons by my broer Pietie en sy vrou
Koeks wat nou op die dorp bly. Koeks het die Pophuis
Hoekie gaste huisies op die dorp en Pietie scan skape
deur die hele Karoo om te sien of hulle dragtig is. Hy
ken elke plaas en boer en alles wat aangaan op elke ou
se werf, wie lekker dit maak en wie lekkerste dat maak.
Ek en Andanté het so geëet aan Rhenosterkop se ingelegde
knoffel, dat ons maar slegte eet gaste is, maar ‘n dop
kan ons drink. Daar word vreeslik gereel aan die res van
ons toer in die omgewing, telefone is daar nie meer nie,
want die kabels is gesteel. Selfone werk net as jy onder
die ontvangs paal staan. So daar word geroep op die
“boere-band” “Perdjie, Perdjie, Perdjie... kom in
Perdjie, Perdjie, Perdjie…”
Perdjie is my broer Pietie se seun, en hy boer nou op
die familie plaas Vlakfontein met sy vrou Lize, en twee
seuntjies Klein Pietie en Kapan. Almal in die Karoo het
‘n noemnaam. Petrus Johannes is Pietie, Amelia is Koeks,
Tobias Mostert is Toi, Willem Schalk is Boet, en
Casparus is Perdjie ! Perdjie maak so tussen die skaap
boerdery deur die lekkerste biltong en droëwors... dis
wat ons soek!
Perdjie en Lize bly nou in die huis waar my Ma my skool
gegee het in Sub A en Sub B. Ek was die enigste kind in
die skool! Ek het natuurlik ook eerste en laaste
gestaan in die klas. Ek, Ouma en Andanté moet eers
kuier, en eet lekker skaap boud tjops met krummels vir
middagete. Vir die van julle wat nie weet nie, in die
Karoo is daar ‘n gesegde: “As jy lus kry vir groente,
dan slag jy gou ‘n vark”. Lekker vol tjops en sommer wyn
ook, is ons vleiskamer toe om biltong en wors te gaan
pak en laai.
Lize se lekkerte is sondroog tamatie dip met olywe en
kruie. Sy weet nou nog nie lekker weet wat om te noem
nie, maar dis baie lekker saam met vars gebakte potbrood,
beskuitjies, of by pasta. Ons stel so ewe voor sy moet
dit ‘n ‘condiment’ noem. Lize laat weet ons gou sy
weet nie wat ‘n ‘condiment’ is nie! Whatever, ons dit
gaan noem, maak nie saak nie, ons het geproe dis lekker
en ons soek dit vir ons Karoo Geskenke.
Oppad terug dorp toe, draai ons by Leeuwfontein in. Toe
ek kind was het die van Heerdens daar geboer, en ons het
speedboat op die dam gery op Nuwejaarsdag. Daar is nou
vars bloed op die plaas. Marise en Barry Andrag. Marise
is oorspronklik van die Vrystaat en maak baie lekker
konfyt, en ons is juis opsoek na dit. Ongelukkig is dit
droog in die Karoo, en vrugte het sy nie om konfyt mee
te maak nie, maar sy het die labeltjies en die
botteljies, so al wat nou kort is ‘n bietjie reën. Ouma
bied sommer aan sy moet kom vye pluk daar by Koeks se
dorpsboom!
Die tyd raak min in die Karoo, die vrou wat die lekker
wilds salami maak, se salami is te lank. Sy gaan nou
probeer om korter salami’s vir ons te maak. Ons koop al
die beskuit wat Tannie Ella by die outehuis kom verkoop,
en sommer al haar koekies ook. Nou soek ons ‘n vleisie
om terug te vat huis toe, na die honger seuntjies wat
ons agter gelaat het. Ons kry ‘n slagding by die dorps
slaghuis, en sommer biejtie afval, pens en pootjies ook.
Ek ry gou af in die dorp om die slagding te gaan haal,
en in die voorstraat van Victoria Wes, waar daar nie
eers parking spaces geverf is nie word ek afgetrek deur
die poeliste van Britstown. “Waar is jou licence?” Ek: "In die outehuis."
"Trek Af! Trek Af!" word ek beveel, en voor die Spar kry
ek ‘n boete – die prys van ‘n slagding!
Ek verneem daarna, dat as die padpolisie van Britstown
Victoria Wes inry, dan versprei dit soos ‘n veldbrand.
Net jammer, daardie oplui het toe nie by my uitgekom nie.
Wet van Transvaal is my voorland.
Die laaste aand moet ons in die Merino Steakhouse gaan
eet. 'Bestel die Skaapnek', sê
my broer.
Voorwaar, hier kom ‘n hele skaapnek op die bord aan.
Drie dae se vleis in Johannesburg! Nou het ons sommer
padkos vir more ook. Daardie nag steek die weer op, en
toe ons die volgende oggend die pad terugvat Sodom en
Gomorra toe, reën dit in die Karoo!
Die pad terug deur die Vrystaat.jpg)
Dit is ongelooflik wat reën aan die Karoo doen, my Pa
het altyd gesê
as jy mooi luister, kan jy die veld hoor
groei. Binne drie dae is asvaal bossies omtower in ‘n
groen tapyt! Orals langs die pad lê
die water, en dit
sif
reën saggies. Ons ry Kambro Padstal langs, en verkyk
ons aan al die ingelegde lekkernye. Ongelukkig is die
mense Bloemfontein toe, so ons sal maar anderdag gesels.
Ons het klaar besluit vir op en af gooi van die pad is
ons nie meer lus. By Christiana klim ons af van die N12
en ry op die rooi pad Vrystaat deur terug Johannesburg
toe. Hertzogville, Hoopstad, Bothaville, Viljoenskroon,
Vredefort.
Die pad is nou maar stil – as daar slaggate
is kan jy reg in die middel op die streep ry. Dis
mielielande en sonneblomlande so ver die oog kan sien.
Ons sien ‘n storm aankom op die horison – blouer as
inkblou – en ek weet dis swaar
reën hierdie. Gelukkig
trek ‘n storm mos so in ‘n rigting, dat dit op die ou se
plaas swaar
reën, en die plaas net langsaan, stofnat
is. Ons ry net die storm se punt raak – ek sit soos ‘n
bobbjaan, kierts regop agter die stuur, hazards aan en
trotseer die storm. Maar ek is ‘n boerkind, en ek weet
reën is altyd welkom.
Eintlik is dit asemrowend mooi – die groen van die
mielies, geel van die sonneblomme en die blou van die
wolke – en net ons op die pad.
Ons stop in Parys, Andanté skrop daar in ‘n padstal,
maar my kop is vol van Karoo-goed, ek kan nie nou aan
Vrystaat-goed dink nie. Die Vrystaat sal moet wag – sal
moontlik verby die mielies en die sonneblomsade kyk,
meer na die kersies van die Oos-Vrystaat. Kom ons los
daardie LekkerBek vir ‘n ander dag.
Na Parys is ons terug op die blou hoofpad, ons gee vet,
want ons huis in Johannesburg met die seuntjies,
honde, katte en voëltjies wag vir ons. Lekker lê
in jou
eie bed en eet aan jou eie tafel!
Ons grootste probleem is om die honger seuntjies by die
huis te oortuig dat al die lekkerte op die bakkie is vir
LekkerBek, nie om te sit en peusel terwyl hulle deur die
sportkanale flits nie! Maar ons het darm vir almal
gesorg, so ‘n ekstra pakkie van Perdjie se wors en
biltong, en ‘n olyf om aan te knibbel. Selfs die
Rottweilers wat by die huis gebly het kry die lekker
harslag en longe van die slagding. Lilu die kat is nie
baie opgewonde oor hierdie plaasprodukte nie, sy piets
haar stert en loop vererg weg. Sy verkies maar eintlik
haar kos uit ‘n sakkie of blikkie – regte ou stads kat,
sy!
Die Wilde
Tuin
Ek is skaars ‘n week by die huis, en ek moet Wildtuin
toe, of soos my maatjie Marie dit noem die “Wilde Tuin”
Ons agt vroue maatjies stap al meer as 10 jaar saam die
wilderness staproete. Ons ry hierdie jaar in ‘n bussie
wat lyk soos ‘n taxi, en ek is aan die stuur. Ons sleep
ook ‘n geleende waentjie - vroumense het mos baie goed.
Die waentjie is bietjie geroes, en een moet altyd agter
toe sit en kyk in die pad, indien die stang afbreek en ons
die waentjie verloor.

Hierdie is nou nie ‘n LekkerBek soek toer nie, maar as
ons stop vir petrol dan spring ek by die padstal in – en
bekyk solank die wêreld. Daar is baie goed van orals te
koop, maar ek soek mos nou Laeveld, of sogenaamd
Mpumalanga. Ek vind by elke stilhou ietsie, Papaja
Chutney, Mpumalanga Fire Chillie Sous, Gesnipperde
Perskekonfyt, Marula Jelly, Sabie Koffie – so ja, daar
is baie te vind in die Laeveld – dit gaan ‘n reis op sy
eie wees. Daardie aand braai ons vrouens die lekkerste
tjops, wors en braai broodjies in Pretoriuskop, en die
Papaja Blatjang word opgesmul, en hulle vra vir nog.
Die Wilde Tuin is ruig en groen. Die wêreld is nat en Oom
Leeu brul net in die verte, want eintlik is die Koning
van die Diereryk mos maar ‘n kat, en katte het nog nooit
van nat voete gehou nie. ’n Grys Renoster maak ons
skrik, dat ons almal tegelyk onder ‘n bosserige boom
inhol. Sjoe, darem minder erg as toe die Leeuwyfie ons
laasjaar gestorm het. Verder kuier ons om die vuur en
onder die sterre.
Ek kom terug huis toe met my paar “sampeltjies” en se
vir Andanté – Ja nee, daar is verseker LekkerBek goed in
die Laeveld. Maar eers moet ons Kaap toe...
Die Kaapse
LekkerBek Reis
Ons goeie vriend trou in Franschoek, Ouma Ala (96) bly
in die Kaap en om eerlik te wees, die Kaap roep ons, want
ek weet daar is baie lekker daar.
Kaapstad
Ons huur ‘n woonstel in die Tuine, dis ‘n lekker basis,
daar is ‘n kombuis en ons kan al die kante toe ry. Dit
is sowaar ‘n klipgooi van my ou Hoërskool – Jan van
Riebeeck. Ek kan die klok hoor lui en kan my Biologie
klas deur die venster sien. ’n Duisend beelde flits deur
my kop. Hoe ons koshuis kinders die Suid-Oos trotseer in
Kloof Straat, met sulke sopbord hoedjies op pad Groote
Kerk toe. Ek stap om die koshuis, wat ons geken het as
“Die Sop”. Dit lyk nog nes dit gelyk het in die
sestigs en sewentigs. Party goed verander ook nooit nie. Ek onthou
hoe ek elke Woensdag 10 voor 6 by die tiekiebox gewag
het dat my Pa van die plaas moet bel. Voor 6 uur was dit
goedkoper om te praat. Met die eerste lui tel ek op, en
as die sentrale sê: “Drie minute om” sit Oupa Boet met
‘n haastige groet die telefoon neer. Jy het nooit langer
as drie minute gepraat nie.
Ek verken die hele buurte, Oranjezicht, Die Tuine, De
Waal Park. Sien meer as wat ek ooit as koshuiskind in
vyf jaar gesien het. Ons het net daardie tyd die bus
gevat stad toe, en gaan melktert eet by Die Koffiehuis
in Adderley Straat.
Die grootste probleem van die Kaap is dat al die boere
en buurtmarkte op ‘n Saterdag is, so hoe werk jy nou jou
pad deur op een Saterdagoggend, van Woodstock, na Tokia,
na Stellenbosch, na Durbanville? Daar is net een
oplossing, ons sal vir 2 Saterdae moet bly! Die eerste
Saterdag aangetrek in trouklere, moet ons via
Stellenbosch se Mark by Bosmans Crossing, troue toe.
Dis nou amper soos die army sal sê,
‘n recce. Ek loer
vinnig daardeur, en dit wat ek in belangstel sal ons
volgende week die mense opvolg.
Die
Swartland LekkerBek Reis
Darling
Ons eerste bestemming is die Swartland. My dogter Andanté,
gebore en getoë
in Johannesburg, was seker nog nooit in
die Swartland nie. Ek ook lanklaas, moet ek
sê.
Ons mik skuins teen die kus op, Darling se kant toe. Die
wêreld is mooi, en daar is lanings bome wat Van Riebeeck
seker nog geplant het, want hy het die Swartland sy naam
gegee. Skielik is daar wingerd, en ons gewaar ‘n
grondpad wat afdraai. Die pad word geskraap en ons stamp
en sukkel oor die walle met ons gehuurde kar. Wat ons
vind is fantasties, Groote Post Manor House en Landgoed
op Darling Hills, met wingerde op die suidelike hange
van die Kapokberg en Tafelberg wat in die verte vir ons
loer. Die huis is gebou in 1808 en die plaas was eers
befaamd vir sy melkboerdery. Die Pentz familie
konsentreer vanaf 2001 net op wynbou. Is ons bly, want
LekkerBekke verkies wyn bo melk! Die trekkers laai
druiwe af vir die pars en jy stap tussen die vate deur
na hulle ontvangs. Ons proe hier en ons proe daar,
gedagtig aan die lang pad wat ons nog moet ry, en die
laaste proe is
De Groote Post
Noble Late Harvest. Ai, maar dis te lekker, proe na perskes en heuning en die
kleur herinner jou aan goue sonstrale, perfek! Kan
julle vir ons Johannesburg toe stuur, 'geen probleem' is
die antwoord. Met ons eerste Swartland aankoop onder die
blad, “pleased as punch” soos die Engelse sal sê, reis
ons voort. Yes, ons kan ‘n lekker wyn tussen die
“swartland hills” uitruik!
Ons is op soek na ‘n Padstal wat ek
êrens van gelees of
gehoor het. Nou is dit op die neus af... ons swenk skuins
weg Weskus se kant toe, vind toe ‘n padstal omtrent in
Yzerfontein. Maar ons besluit net daar, dit is nou
Weskus hierdie, en ons is eintlik op ‘n missie in die
Swartland. Alhoewel die mense van Darling vir ons sê, hulle is in die Weskus,
sit dit nie lekker by my nie... die Weskus is anderste in my kop, hierdie is vir my
Swartland.
Ons ry terug in binneland toe, bestemming Darling. Ons
eerste inry is by Darling Olywe. Op die oog af lyk dit
vir ons meer soos ‘n beeste plaas. Pragtige geboue, en
as jy instap is daar Olywe en Olyfprodukte van alle
soorte en geure. Ons gaan sit aan by ‘n pratige ou hout
tafel, amper soos in ‘n stal. Dit is ‘n Ma en Dogter
span wat die spul bedryf, en ons proe groen olywe, swart
olywe ,olyf jam, olyf chutney en nog ‘n spul ander olyf
goed. Die nuutste is ‘n sjokolade olyf salami... ek is
so bietjie gegril vir die gedagte, want my soettand het
ek verloor
êrens in my lewe.
Gelukkkig hou Andanté kop. Sy het as ‘n “designer” ‘n
baie eenvoudige filosofie as dit by keuses kom. Eerstens,
moet dit mooi wees, en dan moet dit lekker proe. Groot
is die vreugde as iets mooi is, en dan ook lekker proe.
As dit lekker is, maar die verpakking is nie mooi nie,
sal sy sommer sê: “Ek hou van jou produk, maar jy sal ‘n
ander label moet laat design”.
Klaar gepraat, vir haar is ‘n lelike botteljie, met ‘n
lelike labeltjie, nie ‘n opsie nie - maak nie saak hoe
lekker nie!
Ons weet nou alles van die olyf, die pars, die boom, die
hele sousie, nou kies ons wat in ons LekkerBek Geskenk
moet kom. Darling Groen Olywe, wat so lekker loskom van
die pit, Olyf en Chilli Tapenade – eintlik sag op die
tong, en ietsie anders... Gekruide Kaasbolle in Olyfolie
ingelê.
Dis baie mooi en baie lekker! O gits, kan julle vir ons
in Johannesburg aflewer? Konsternasie, hulle het nog
nooit goed so ver gestuur nie. Ons is netso… moenie
worry, ons sal organise.
In Darling self snuffel ons rond, maar dis meer Vetkoek
en stuff, en ons kry sommer manne wat al 10 uur die
oggend lekker op die stoep sit met ‘n bier en ‘n lekker
stuk steak. Ons volg die bordjies na “Evita se Perron”
toe. Darling is darem op die map gesit deur Pieter Dirk
Uys, en dit moet ons sien. Dit is so kitch dat jy jou
lag nie kan hou nie. CD’s wat in die bome hang soos
blomme, ‘n fyn gespot met al wat leef en beef. Dit is ‘n
destinasie op sy eie. Daar is mense wat eet, maar ons
het darem al ‘n paar olywe en ‘n skootjie late harvest
agter die blad so voort is ons in ons soektog na
Swartland lekkerte.
Ek moet darem nou net verduidelik, ons is vreeslik
puntenerig in wat ons soek. So as ons by ‘n plek instap
en dan sommer weer uitstap, is dit nie omdat dit sleg
was nie, dis net nie wat ons soek nie.
Kort duskant Darling, oppad Malmesbury toe is Darling
Kelders, en daar draai ons in. Ons proe aan so ‘n paar
rooi wyne, maar niks gryp ons nie. Vort is ons
Malmesbury toe. Malmesbury het grote paaie wat ontmoet,
en jou óf deur die dorp gooi
óf, af van die dorp af gooi.
Ons ry deur die dorp Riebeeck Kasteel se kant toe. Soos
jy ry loer jy maar rond of iets jou aandag trek, en toe
ons onsself weer kom kry is ons deur die dorp. Volgende
ding is Malmesbury se kelders. Ons beter stop, ons is
dan nou deur Malmesbury en ons het niks gesien of gevind
nie. Ek sit teen die tyd lekker buite en beskou die
omgewing, Andanté is by die kelders in, na so ‘n rukkie,
hier is sy weer uit. “Hoe lyk dinge?” “Nee,wat... net nog
wyn” en seker niks mooi genoeg na haar smaak nie.
Die Riebeeck Vallei.jpg)
Ons laaste bestemming in die Swartland is Riebeeck Wes
en Riebeeck Kasteel. As jy teen die bult uitry en die
vallei ontvou so voor jou, dan weet jy sommer, hier is
groot lekkerte. Shiraz land en Olyf land. Nou is ons
honger, en wil eers eet. My Chef, John, wat saam met my
by die Anton Van Wouw restaurant gewerk het, het ons
vertel van ‘n lekker eetplek. Ons ry by alles verby,
opsoek na die plek, nou kan ek nie eers die naam onthou
nie. Maar ons kry dit nie. Stop moet ons stop, en ons
kies ‘n plekkie met ‘n pragtige uitsig oor die vallei
,The Barn. Ons tafel maatjie is ‘n een-oog huiskat, maar
ons eet patee, en dis nie katkos nie.
Nou moet ons spoed optel, want dis platteland hierdie en
die mense tjaila vroeg. Af in die dorp na Riebeeck
Kelders. Aangename verassing, en die Shiraz is baie
lekker – daar het ons dit nou Riebeeck Kasteel Shiraz
saam met ons lekker soete wyn. Happiness.
Ons karring op ‘n sinkplaat grondpad uit die dorp uit,
agter iets aan wat Andanté
raakgesien het.
Dit is toe ‘n slaghuis op ‘n plaas. Die lekkerste vleis,
en ons kry vreeslik lus, maar ons is nie in die
vleisbedryf nie. Kyk rond, draai om, terug dorp toe.
Daar is ‘n huge kasteel op ‘n koppie wat op die dorp en
die vallei afkyk. Eers ry ons in, en weer uit, want ons
dog ons is nou in die wynkelder in. Toe draai ons om en
probeer weer. Ja nee, hier is vir jou ‘n ding. Binne in
die kasteel, Het Vlock Casteel, is ‘n proe kamer met
olywe, alle geure en kleure, blatjang , jam,
olyfolie, wyne en ek weet nie wat nog alles nie. Maar,
ons is darem LekkerBekke van ouds, en ons weet wat ons
soek. Onthou daar moet ‘n variasie wees en dit moet mooi
wees en bowenal moet dit lekker wees.
Ons proe, proe en sommer vinnig besluit ons op Shiraz
Dessert Dressing – mmmm lekker oor jou roomys, en toe
gooi ek ‘n Boerejongen in my mond, en dit “pop” so van
die lekkerte… Mmmmm nog lekkerder by jou roomys. Ons
vat toe nog ‘n botteljie olyfolie, net in case. By die
betaal slag lê
daar tamaletjie, ek vrek ook tamaletjie,
so lekker suur-soet. Nee wat, sê
die vrou, dis die
laaste een, vat dit sommer. Laat ek julle vertel, die
lekkerste tamaletjie ooit! Ek soek asseblief nog, en
sommer baie!
.jpg)
Nou wil Andanté
na die Olive Boutique toe, ek is net so. “ Man watse
Olive Boutique, dit gaan soos ‘n winkel wees, wat al die
ander mense se goed verkoop” Nee, my kind het ‘n kop van
haar eie, en op met ‘n steile bultjie is ons. Wel, haar
naam is Juliana, uitgewyk van Johannesburg, en sy verkoop
nie ander man se goed nie, maar maak haar eie, sommer so
langsaan die winkel. Hulle beskuitjies is al op, seker
na ‘n dag van mense wat hulle dik knibbel aan samples,
en hulle vra vreeslik om verskoning. Dit pla ons nie,
ons wil juis die produk self proe, nie die koekie wat
gemaak word deur Bokomo of iemand nie. Die lekkerste
Olyf Mosterd kry ons daar, Olyf Tapenade, en ek durf
weer die Sjokolade en Olyf Salami aan, en die slag kry
ek my kop daarom. Mmmmm, nogal lekker, en dit pas goed
by ons ander produk keuses.
Ons saag vinnig om die berg na Kloovenberg toe, ons het
dit vir laaste gelos, maar besef skielik dis na 4 uur,
en hierdie is nie Johannesburg waar ons eers 4 uur die
middag aan ‘n nuwe ding begin werk nie – hierdie is laag-lê
land. Toe ons daar insleep, begin hulle toesluit en
uitsleep.
Gelukkig, is hulle diens georienteerd, en stap weer
terug en sluit oop. Ons kan nou nie so lekker proe nie,
net kyk, maar Kloovenberg se bemarking is goed, so ons
sien baie van hulle produkte hier in Gauteng. Ons koop
met ons oe, Kloovenberg Shiraz Sout, lekker ietsie
anderste, en hulle Olyfolie, wat al orals pryse en
medaljes gewen het.
Nou moet ons terug Kaap toe, gelukkig is die wêreld daar
mos maar eintlik klein, en jy ry nie ver nie. Ons ry
agter deur Paarl, ek vertel vir Andanté, hierdie is nou
Boland, so dis vir ‘n anderdag.
Ons stop wel by ‘n padstal net om te sien of daar iets
anders is, maar hulle loer ons ook so half en half oor
die counter, want hulle is besig om op te cash. Nee wat,
die Boland gaat nou soos ‘n klomp mossies in die boom
sit vir die nag (en wyn drink) laat ons huis kry.
Die Kaapse Skiereiland
Die volgende oggend waai die Suid-Oos met mening. Ons
plan is om almal wat ek op Stellenbosch se mark
raakgeloop het op te volg en die wynlande onder die knie
te kry.
Ons het ook ‘n ete afspraak in Stellenbosch met Marilou
(wat die lekkerste kos maak!) want ons wil later LekkerBek
Kos Toere saam met haar doen.
Eers soek ons Stonehill se olyfplaas, ons is op
instruksies op die Klipheuwel pad,lLinks by die stopstraat,
links na Durbanville, eerste grondpad regs,
by die Oranje Skool regs, dan is daar ‘n Lavender
Cottage... wat laat julle dink ons het nie GPS nie? Ons
verdwaal vir ons tussen koeie en dinge dat dit laat raak.
Ek bel vir Colleen van Stonehill, elke nou en dan, maar
niks lyk vir haar of ons bekend nie. Ons besluit net
daar om haar later in Durbanville te ontmoet, en werk
onsself terug Klapmuts, Stellenbosch se kant toe.
Stellenbosch se berge is swart gebrand, en skielik begin
dit sif rëen. Ek en Andanté het krulhare, so dit werk
nie so lekker vir ons nie, maar ons is bly vir die berg.
Marilou het allerhande idees van etes in die wingerd tot
brunch op Tafelberg, en
ons monde water net aan die gedagte. Ons sal hierdie
stukkie lekkerte verseker verder ondersoek. Eers moet
ons Anna-Helena, Jeanne-Luc en Lynne opspoor en die
Wynlande deurwerk.
.jpg)
Die Wynlande is die een pragtige Herehuis en Landgoed na
die ander, ek is seker die Konigin van Engeland, sal
haar kasteel verruil vir so ‘n stukkie Kaapse grond. Ons
snuffel deur elke padstal. Ek voel al soos ‘n padstal.
Andanté soek suurvygies – ek sien net jam en wyn en jam
en wyn.
Ons vind darem vir Anna-Helena en Nicola wat die
lekkerste dessert Dukkah maak, mooi verpak in blikkies
met herwinbare karton daarom gedraai. Dit is lekker,
gesprinkel op allerhande soet lekkernye en ons is
gelukkig. Lynne en haar man maak “Rosey's Choppy
Choppy”, ek het dit op die mark raakgeloop en ons het al ons proe
botteljie opgeëet in ons woonstel.
'n Kombinasie van Feta,
Chillie en Sondroog Tamatie – amper soos ‘n blatjang met
bietjie lekker skop. Perfek.
Tussendeur, spoor ons ook Chefs@Work op. Ons het hulle
produkte hier en daar in ons omwandeling raakgeloop.
Hulle het lekker lang bottels, vet bottels, en hulle
labels is mooi.
Ons hoop en bid dis nie ‘n huge fabriek nie, maar tot
ons groot verligting is dit nie. Daar is mense wat hulle
lekker Chilli Olie, Herb Dipper en lekker Kaapse Vye
maak. Ek was so bly oor die vye, want ons het nog nie ‘n
vy in ons stash nie.
Laatmiddag kry ons vir Jean-Luc – Fransman wat in die
Congo gebly het en nou is hy in Somerset Wes. Ons ry na
sy huis toe, hy maak wat hy noem “My Pienk Bubbly” La
Vie en Rose. Ons moet darem eers proe voor ons kan
besluit, en Jean Luc onthaal ons met sy wyn en kaas en
daar loop sulke vet katte rond in sy erf. Ek en Andanté
is versot op sy wyn, en dis nog mooi ook. Maar die son
wil al sak en ons moet nog terug Kaap toe. Ons koop, en
nog sommer ‘n bottel van sy Chardonnay ook, (dis vir die
seuntjies wat wag in Johannesburg) en weg is ons in ons
reg-op gehuurde motortjie. Skaars in die pad af, bel
Jean-Luc, ons het die “Pienk Bubbly” wat ons aan geproe
het vergeet, dis ons’sn. Yes, het jy al gesien hoe maak
‘n man ‘n U-Turn in ‘n regop karretjie? Hy staan in die
pad met ons oop proe bottel – net so lig gekurk vir
verder drink, en ons is maar te bly.
Nou, is ons darem honger geproe hier deur die Wynlande.
Ek ry Gordonsbaai se hawe toe, daar is ‘n lekker eetplek
op die hawe. Die wind is koud, en dis lekker warm en
jolig in die pub. Hulle het ‘n Guiness promosie, en jy kan
‘n hoed wen as jy gelukkig is. Andanté kyk amper die
Oom oorkant ons se hoed van sy kop af, en bestel Guiness,
want sy wil ook so een hê. Ons eet die lekkerste vetste
kalamari en vis in ‘n pan, met sommer nog knoffel ook
by!
Nou moet ons na die lekkerte terug Kaap toe. So deur die
Kaapse vlakte sien ons die vlamme teen Tafelberg, net
bokant Rhodes Memorial. Dit is skrikwekkend, lyk
behoorlik asof die hel ontvlam het, en die wind waai.
Die volgende oggend word ons wakker, met die geraas van
helikopters. Ek wonder of iemand wat baie belangrik is
dalk by die Mount Nelson land? Maar, dis Tafelberg wat
brand – die vlamme het om Duiwelspiek in die nag gekruip,
aangeblaas deur die wind. Daar is drie helikopters wat
in sirkels vlieg. Hulle kom skep water in die reservoir
langs ons in die Tuine, vlieg die berg uit, en laat val
die water op die vlamme. As hulle kolskoot tref, dan
juig ons.
Met die konstante gedreun van helikopters bekyk ons ons
“LekkerBek loot” Ek: “Andanté, ons het ‘n probleem met
die Wynlande – watse wyn gaan ons in die Wynlande
Geskenk sit?” My dogter, en Parntner in die besigheid is
nie net mooi nie, sy kan kreatief dink en doen. Sy vra
my, “Waar is die Blaauwklippen Pad?” Daar sal ons die
Wynland probleem oplos. Ek weet presies waar is die
Blaauwklippen pad. Was nie verniet toentertyd student op
Stellenbosch nie. Jy ry daar verby oppad Bikini Beach
toe, nogals met jou ’59 Beeteltjie!
Wynland
Hemel
Ons plan was eintlik Boland, maar ons ry nou maar via
die Stellenbosch Wynlande na die Boland Wynlande. Vir
Andanté is dit Grieks, vir haar is daar orals net
wingerde en wyn. Via nog ‘n padstal of wat draai ons af
op die Blaauwklippen pad wat ons oplei in ‘n pragtige
vallei – bestemming Waterford Landgoed op Andanté se
aanbeveling. Toe ons deur die hekke ry, en ek die plek
aanskou, stop ek eers die kar, draai die spieeltjie so
bietjie skuins, en sit lipstiffie aan. Vir so ‘n mooie
plek moet jou lippe darem geverf wees!
Waterford is beautiful, olyfboorde, damme met eende wat
swem en dan die lang aanloop na die hoof gebou, nuut,
lyk dit my, en splintérskoon. Ons stap soos mense wat
hoort en geld het. In die binneplein word ons vriendelik
onmoet, en ons vertel vir die dametjie, ons het nie baie
tyd nie want ons is op ‘n reis, maar ons wil die
sjokolade en wyn paring proe. Ons mik nog so na die
ander 7 wyne wat te proe is, maar ons moet nog oor twee
bergreekse ry met die reg-op karretjie vandag, en dis
nog nie eers teetyd nie. Sy bring vir ons 3 wyne met 3
blokkies sjokolade, daardie plattes, wat lyk asof dit
ingevoer is van elders.
Dit werk so: Eers vat jy ‘n slukkie wyn, dan kort daarna
‘n happie
sjokolade
van die soort wat by die wyn pas, en
dan weer ‘n slukkie wyn. Dan herhaal jy die proses met
die ander. Eers, Kevin Arnold Shiraz... Mmmm, dis goeie
wyn die, dan ‘n happie Masala Chai Donker Sjokolade –
hierdie twee werk saam. Volgende is dit Waterford
Cabernet met “ Rock Salt” Donker Sjokolade,
sowaar jy kan die sout aan die sjokolade voel - en dan
die cherry op die koek – Waterford Natural Sweet Wyn met
Roos en Malva Melk Sjokolade.
Voorwaar! Dit is verseker soos die Hemel moet proe!
Ons is so opgwonde, ons verstik amper aan hierdie
stukkie smaak sensasie. Wat ons wel weet, die wyn word
hier gemaak, maar hierdie lekker sjoklade? Seker van
België? Nee wat, dit word met die hand gemaak in
Greyton, in die Overberg! Halleluja! Ons lek ons lippe
af en weet, lekker bly maar lekker, en hier het ons dit
gevind in die Blaauwklippen Vallei.
Soos katte wat pas ‘n hele bak room geëet het, vat ons
die pad – Boland se kant toe.
Die Boland
(deel van die Breede Rivier Vallei)
Ons ry skuins deur Stellenbosch, ons wou nog ‘n paar
ander plekke by ry, maar nou is dit nie meer nodig nie.
Oor Helshoogte, net omdat dit lekker is, vinnig in by
Fairview, skuins deur die Pêrel, en reguit deur
Wellington. Ek wil konsuis oor Bainskloof ry, om dan net
die Boland van bo af te beskou. (Dae daarna loop ons ‘n
boer raak wat Organiese Wyn maak in Wellington, maar
daardie dag het ons hom misgery).
Jy moet darem eenkeer in jou lewe Bainskloof oor ry –
maar jy moet ook nie haastig wees nie, want dis mooi.
Elke nou en dan moet jy stop, en net afkyk na die
pragtige wêreld wat in die verte voor jou lê. Anderkant
af is dit weer die klowe en die berge en die stilte.
Tulbagh
Deur Wolseley, ry ons Tulbagh toe. Ek vertel Andanté hoe
ons uit die koshuis in die Kaap gehardloop het met die
aardbewing in Tulbagh, so ver het jy dit gevoel. Tulbagh
is pragtig en ons snuffel rond in die dorp. Eet by die
Paddagang, en vind uit daar is allerhande lekkerte in
die omgewing – kaas, sjokolade, wyn, olyfolie en net wat
jou hart begeer. Op daardie stadium raak die dag kort,
en ons besluit om eers die Boland te los, want hierdie
is nou al die Witteberge en
na my mening weet ek nou nie meer so lekker watse streek
hierdie is nie. Dis nie meer Boland nie en volgende kom
die Koue Bokkeveld. Laat ons maar net rondkyk, en later
besluit wie pas nou waar.
Ceres
Ons is haastig Ceres toe, want ons het gehoor van Baba
wat lekker jam daar kook. Maar ons kan dit nie
weerstaan om in te draai as ons iets lekker van die pad
af sien nie. Eerste wat ons afdraai oppad Ceres toe, is
'n pragtige plek, nuut gebou. Andanté trippel behoorlik
daar in. Maar ai, die olywe proe ene kerrie, en ons ken
darem nou al vir olyf se kind. Ek het so netjies die van
die olyf in die servetjie ontslae geraak. Toe is die wyn
ook sommer nie vir my lekker nie. Volgende, sien ons in padstal. Toe die Tannie so aankom
na my toe met die proeseltjie olyfolie in ‘n teelepel,
kry ek so ‘n gril - van kasterolie in ‘n lepeltjie -
en ek besef ek kan nie meer proe nie, die dag raak te
lank.
Ons gee vet, Ceres toe, dit raak laatmiddag. Die pad is
mooi, ons kry skaars gekyk, want skielik is daar reuse
lorries. Seker ry hulle vrugte erens heen. Ceres is nie
verniet vernoem na ‘n Griekse God van Vrugte nie. Ons
vind vir Eileen, beter bekend as Baba in haar pers huis.
Die voordeur staan oop, en daar kwaak ‘n padda om jou
aan te kondig. Baba se huis is vol jam, en chutney, dis
rakke op rakke van botteltjies van elke groote wat
Consol kan maak. Jy proe in haar kombuis.
En jy kan sien, in hierdie kombuis word gekook. Groot
silver jam potte, sakke suiker en broodmeel, want sy is
ook ‘n bo-baas vetkoek bakster! Ons is dadelik tuis. Ek
ken so ‘n kombuis, ek het in een grootgword. Ons proe en
gesels, en haar man, ‘n onderwyser kom ook dagsê. 'Baba', vra ons,
'kan jy vir ons pryslyste e-pos'. “Ja” kom die
antwoord, “Ek moet net my seun vra om die computer te
kom werk." Ja nee, ek hoor wat sy sê, kook en tegnologie
is nie altyd slaapmaats nie.

Worcester
Ons slaap die aand in Worcester by my vriendin van
Universiteit, Pannie en haar man Mossie.
Ons was saam in Huis ten Bosch studente op
Stellenbosch. Pannie kan nooit verstaan dat ek so besig
is nie, ek is gedurig doenig met ‘n besigheid van ‘n
aard. Sy bly al jare lekker rustig op Worcester, en kla
net van die troues wat so hand uitruik. Sy vertel sy gaan
nie meer nie, want sy is so moeg van die troues waar al
die stoele “rokke” aan het! Mossie vertel ons van ‘n
man op die dorp wat die lekkerste salami maak, en ons
proe sommer uit sy yskas. Mossie bel hom daar en dan. Hy
is in Panorama kliniek vir een of ander siekte, maar ons
het mekaar se nommers, en sal weer praat.
Die Breede
Rivier Vallei
Nuy Vallei
Die volgende oggend klim ons op Route 62 om die Breede
Rivier Vallei klaar te verken, want as jy jou weer kom
kry gooi Route 62 jou sommer in die Klein Karoo uit.
Eerste stop Padstal... nou begin die padstalle al vir
my eenders lyk, maar ons kry darem lekker vars
suurvygies. Tweede afdraai Nuy Vallei, op aanbeveling van
Mossie. Die Conradie familie het ‘n pragtige Kaaps
Hollandse proe kamer langs die pad met ‘n wingerd
prieël. Die blare is besig om te verkleur, en ons moet
‘n foto neem.
Klaas Voogds Vallei
Tweede grondpad na links, draai ons af: “Klaas Voogds
Meander” lees dit. Klink vir ons lekker, ons meander
mos. Dis ‘n vetplant maze... en ons ry nog bietjie aan.
Volgende teken is “Rusticus of the Land”. Dit lyk lekker,
en ons is daar in. ‘n Hond met ‘n baie lang onderkaak
kom groet ons, en begelei ons na die kelder. Wat ons
ontdek is perfek. ’n Familie wat volgens ou tradisionele
metode nog wyn maak. Ons proe “Wild Fermented Merlot” en
die naam en die smaak en die bottel staan ons aan. Yeah! Ons grondpaadjie het ‘n juweel opgelewer..jpg)
Die vallei lyk baie aanloklik, en ons ry nog so ‘n
entjie verder. Daar is grond te koop, en ons droom
lekker drome van in ‘n vallei onder die Langeberge woon,
met ons hele familie van Rottweilers. Ons sien
padaanwysings na “The Olive Garden” en volg ons neus. Bo
teen die koppie tussen die fynbos is daar iets, en ons
ry in. Dit lyk na ‘n “week-end getaway”. Uit die kombuis
kom ‘n vrou “You have an appoinment?” vra sy. Ons skud
ons kop. Ons ry op ons neuse, ons het geen nikse
appointments nie. “ Oh, ze gate was open, I help you”.
Ons verduidelik haar ons missie, ons is op soek na
olyfolie, lekker olyfolie. O ja, sy maak haar eie
olyfolie, en olyfprodukte. Proe tyd, en haar man
Ferdinand kom sit aan. Die beste olyfolie ooit! Die
lekkerste olyf en rubarb konfyt ooit!
Hulle is Belge wat deur die internet hierdie plasie
gekoop het, kan jy glo?
Robertson
Ons is terug op Route 62, en dit wemel van die Harley
Davidson’s, êrens is daar ‘n partytjie wat ons nie van
weet nie. In Robertson proe ons weer rond en bont.
Iemand gee ons ‘n chilli brousel wat blykbaar ‘n prys in
die Kaap gewen het... yo,yo,yo, hy skop my amper uit my
skoene uit. Gelukkig vind ons net daarna Le Grand
Chasseur Portwyn. Ai, so lekker soet op die tong, en
die bottel is pragtig. Lekker in ons skik met hierdie
mondjievol lekkerte, gaan hierdie botteljie ook in ons
Breede Rivier mandjie.
Nou begin ons ernstig worry, hoe ons hierdie klomp wyn
en kos terug in Johannesburg gaan kry?
.jpg)
Ashton, Montagu en Bonnievale
Ashton, Cogmanskloof en Montagu. Ek wil nie eintlik in
Montagu gaan draai nie, want ek se vir Andanté dis
eintlik al Klein Karoo, maar dis so naby, en ons is op
reis. Maak ‘n draai by Montagu Droë
Vrugte en Wyn
Stalletjie, en koop ‘n reuse sak rosyne in allerhande
kleure. Ons koop ook ‘n mooi mandjie wat kan toemaak,
vir al ons produkte. Nou toer ons, want ons raak nou
bang vir die gewig op die vliegtuig. Bonnievale is
pragtig, blomme pad met wingerde. Ons kry egter nie wyn
wat sê
dit word in Bonnievale gemaak nie, alles het
Robertson op die label.
McGregor
Ons moet McGregor sien, ek was nog nooit in my lewe daar
nie. Dis baie mooi en baie rustig. Ek is so effens
jaloers op die mense wat daar bly. Met die uit-ry slag,
draai ons verkeerd in die kleine dorpie, en binne in ‘n
squatter kamp. Ja-nee dog ek, dis nie net ons in Gauteng
wat so ‘n gebroedsel op ons werf het nie. Terug, deur Du
Toits Kloof ry ons Kaap toe, dit is môre Saterdag. Ons
laaste dag en ons moet die kosmarkte deurwerk voor ons
pad vat huis toe.
Die
Moederstad
Voor ons die volgende oggend die Kaapse Markte aandurf,
gaan groet ons eers vir Ouma Ala in Eversdal se
ouetehuis. Sy is op 96, nogsteeds ‘n LekkerBek! Ons vat
vir haar allerhande lekkerte van ons reis deur die Kaap.
Sy is oorstelp, want sy vertel ons: “My kind, Ouma is
altyd Honger!”
.jpg)
Ons eerste besoek is aan Durbanville se mark. Ek is mos nou
nie eintlik ‘n “shopping centre” mens nie, ek stap rêrig
liewers met my honde as wat ek “window shopping” doen.
Die mark is binne-in Willowbridge se koop sentrum. Daar
is baie lekker goed, maar ons soek net produkte wat nie
bederf nie. Ons kry Cajun Spice en Turkish Delight, gemaak
deur ‘n regte Turk. Proe nog olywe en ry Woodstock “Old
Biscuit Mill” se mark toe. Hier, gebeur ‘n ding. Ons kry
parkering omtrent kort duskant De Waal Drive. Gelukkig
het ons ‘n klein reg-op karretjie. Die plek wemel, dis
brood en wyn en kos en alles wat lekker is. Dit is
verseker ‘n Kaapse LekkerBek uithangplek, hier kom jy
vir lunch, nie vir proviand nie. Op hierdie stadium van
die wedstryd is ons opsoek na ligte lekker goed – ons
vind tuisgebakte koekies, pesto (wat ongelukkig ‘n yskas
soek), lekker vars hanepoot druiwe en ‘n granaat om huis
toe te vat. Nou is ons honger, koop ‘n lekker plat
Italiaanse brood met Parma Ham, Rokette, Parmesaan en
Balsamic Reduction, skrop vir ons ‘n plek onder ‘n eina
boompie uit en eet met ons hande. Te Lekker!
Ons moet nog Tokai se Organiese Mark toe gaan, ons ry in
sirkels, dan is ons in ‘n woud, en dan is ons amper
oppad Houtbaai toe. Elkeen beduie ons in ‘n ander
rigting. Ons kry ‘n trop bobbejane in die pad en
vrywilligers wat die verkeer beheer. Een van die
“Friends of the Baboon” vrouens beduie ons presies. Ons
was al daar, net te vroeg omgedraai! Toe ons weer daar
kom is ons te laat vir die mark!
Ag wat, no problem ons ry Kalkbaai toe! Kalkbaai se hawe
is choc en block van mense en karre.
Dis ‘n mooi dag in die Kaap. Ons kry ‘n man wat ons in
die kleinste denkbare parkeerplekkie in help. Hy beduie
my om te draai en se my nogals “Werk nou saam, Werk nou
saam!” Daar is gerookte snoek te koop, maar ons stap
eers ‘n draai in die vissershawe. Toe ek terugkom is
daar net soutsnoek oor, die vrou sê
my : “Het ek jou
nie gesê
die goed loop nie?” Te vinnig geloop vir my!
Ons drink wyn en eet slap chips, ons moet lughawe toe.
Ek gee die man van die parkering ‘n ordentlike tip, hy
kyk so af en sê
“Net-so Net-so”.
Nou ja, net-so, net-so, nou-nou vlieg ek en Andanté
terug Johannesburg toe met die hele Kaap in ons mandjie.
Ons LekkerBek Reis is ver van klaar!
|