Die LekkerBek  Reis... Op soek na lekkerte

Deur Wirie Rust

 

Die Begin van LekkerBek

 

Kersfees 2008 – ons is baie opgewonde want die hele gesin, dis nou André die Groot Grys Beer, Shie vir sy kinders, Mie  - dis ekke Wirie, so genaamd deur my kinders en word ook sommer Wir genoem deur my vriende, Andanté ons dogter en Arné ons seun, gaan op Kersdag Malawi toe vir ‘n Malawi Meer vakansie.

 

Die enigste probleem is dat daar besluit is dat elkeen betaal vir homself. Ek is ‘n konsultant, en gee besighede raad om hulle bemarking te verskerp. Wie soek nou sulke raad in Desember? Al raad wat mense soek, is watter geskenk om te koop. Ek beter maar begin bak en kook, want dit kan ek doen – so besluit so gedaan. Ek bak, Andan neem foto’s met die mik en druk en ek laat weet my vrinde. “Ek verkoop kos!”

 

Vrinde eet al jare lekker aan my kos, en skielik het ek bestellings – genoeg om myself Malawi toe te vat. Enigste probleem is, ek het lanklaas so baie gestaan, ek lyk later soos ‘n haarnaald, kan nie regop kom nie! Ek het blase op my hande van die Krisms Biscotti mooi fyn sny, en elke houer in die huis is gevul met my “Gourmet Gift Basket” goodies.

 

Later moet die familie help met die pak en linte omdraai! Dis rooi met polka dot en strepe en swart en silwer linte met silwer balletjies. Dis pragtig, ek dink ek is baie oulik en my kliente is in hulle skik. Ek is gedurig kort aan iets, of ‘n boks, lint, koekie of sakkie soos die bestellings instroom. Eindelik vertrek Gauteng see toe, en ek kan asem skep.

 

Krismis vir die familie? Skoon daarvan vergeet! Ek stap met my Rottweilers, waarvan ek op daardie stadium 10 het! Twee grotes en 8 kleintjies, Bera Babuscka my geliefde teef se kleintjies.Staptyd met die Rottweiler familie, is dinktyd. Ek besluit om vir André ‘n pakkie te maak met allerhande lekker goedjies, want eintlik is hy maar net ‘n LekkerBek.

 

En net daar tussen die Rottweilers wat snuffel en snuif, besluit ek, watse ge-gourmet giftbasket? Ek noem hierdie besigheid “LekkerBek”!

 

Ek self kan verseker nie al die LekkerBek goed bak en maak nie, ek sal moet Tannies gaan soek oor die hele land – en daar is baie – wat lekker goed maak, en my mandjies daarmee volmaak. Ons baken die land in streke af, vir elke streek moet ons LekkerBek goed gaan soek en so begin ons LekkerBek-Reis...

 

 

Die Groot Karoo LekkerBek Reis

 

Victoria Wes

Ek is ‘n Karoo-kind. Dit is my eerste bestemming. Sommer vir Ouma Marie in Victoria Wes gaan kuier en vir Lood, een van my Rottweiler seuntjies plaas toe vat, na Toi, my broer se seun. Ek en Andanté spring in die bakkie, en ry af plaas toe, met Lood op die agtersitplek. Ons ry Kimberley oor, want dan kan ons meer stop as Lood ‘n behoefte het. Die pad gooi ons elke nou en dan af, want hulle bou en gooi slaggate toe, seker nou maar vir die Sokker Wêreldbeker. Weet nou nie juis wie in daai vlak gaan ry nie, maar ten minste word daar gewoel en gewerskaf. Ons ry in by Kambro padstal, maar toe ons met Lood uitklim kom daar twee sulke stywebeen werfhonde aangestap, en ek en Lood spring inderhaas terug in die bakkie. Besluit maar om met die terugkomslag daar in te ry as ons nie ‘n viervoetige dierasie in die bakkie het nie.

 

Ouma Marie bly in die ACVV outehuis, en ons bly ook sommer daar. Lekker met ‘n matras op die vloer, en kan heeldag en nag kuier en stories vertel. Ouma Marie kook elke dag vir haar lekker huiskos in haar klein kombuisie. Toi wag vir Lood toe ons daar kom. Dit is eerste liefde, maar my hart is baie seer, want my Lood Seuntjie het ek grootgemaak, en nou moet ek afskeid neem. Ek huil vir Lood en Toi en Ouma en Andanté en die bakkie sopnat! En weg is Lood, Rottweiler gebore in my huis in Johannesburg, en nou is hy ‘n Karoo plaashond! Met ‘n werf wat 104 kilometer groot is! Salig.

 

Beaufort Wes

Maar ek is in die Karoo om LekkerBek goed te soek. My skoonsuster Koeks vertel my van die Nigrinis wat lekker olywe en knoffel groei en inlê op die plaas Rhenosterkop. Sy wil bel om te hoor of die mense by die huis is. Sy bel navrae. Ek dink hierdie navrae is ‘n call centre in een of ander baie vreemde land. Hulle weet nie van ‘n renoster nie, hulle weet nie van ‘n kop nie - hulle weet niks. Met die hele petalje, en Koeks wat al boser word en tale praat, kry ons darem ‘n nommer, weet nou nog nie eintlik hoe nie, maar ons bel, en die mense is by die huis. Die volgende oggend ry ons Rhenosterkop toe, anderkant Drie Susters en kort duskant Nelspoort. Ouma ry saam, want sy het op Nelspoort skool gehou en wil weer die wêreld bietjie bekyk.

 

Daar is olyfbome langs die plaaspaadjie na die huis toe, en ons weet dadelik ons is op die regte plek. Lekker groot plaas opstal met baie koelte bome. Honde van alle shapes en sizes wat ons te- gemoet kom en die wiele ruik, met boodskappe wat kom van Bobbejaansberg. (Die boere se naam vir Johannesburg.) Dis lekker koel in die huis, want die wêreld om ons is maar droog en vaal. Janine bring vir ons allersoorte olywe om te proe. Ouma praat oor bekendes, in hierdie wêreld ken almal mekaar, of is dalk verlangs familie. Ons is in ons skik, die olywe en olie is vreeslik lekker en ons vergryp ons so effens, vergeet dis net proe, nie eet nie! Die botteltjies is mooi en die labeltjies nog mooier. Groot vraag... Kan julle Johannesburg toe stuur? Ja, nee, geen probleem. Groot verligting, die Nigrini’s is ge-organise, en ons is in besigheid!

 

Lekker gelaai met  Rhenosterkop Karoo Olywe, ry ons terug Victoria Wes toe. Ons draai sommer op die ingewing van die oomblik in by Kromrivier Stasie. Hier het my Ma en Pa my op die trein gesit skool toe, Rhenish toe in Stellenbosch, toe ek 7 jaar oud was. Ek onthou dit soos gister en ek is nou 56 ! Ek kon nie lekker oor die relings van die trein sien, om vir hulle te waai nie, moes so oprek en sien hulle vandag nog in my geestesoog, my Pa met sy hoed in sy hand en my Ma, langs die De Soto.

 

Victoria Wes Distrik

Terug in Victoria Wes kuier ons drietjies. Ouma, Kind en Kleinkind (3 geslagte en almal Virgo’s) lekker op Ouma se ouetehuis stoep onder die wilde wingerd. Ons drink wyn, Andanté maak kos, Ouma gee raad, en ek sê “Ma – los haar, sy maak lekker kos” – Ons al drie maak lekker kos!

 

Die aand gaan kuier ons by my broer Pietie en sy vrou Koeks wat nou op die dorp bly. Koeks het die Pophuis Hoekie gaste huisies op die dorp en Pietie scan skape deur die hele Karoo om te sien of hulle dragtig is. Hy ken elke plaas en boer en alles wat aangaan op elke ou se werf, wie lekker dit maak en wie lekkerste dat maak. Ek en Andanté het so geëet aan Rhenosterkop se ingelegde knoffel, dat ons maar slegte eet gaste is, maar ‘n dop kan ons drink. Daar word vreeslik gereel aan die res van ons toer in die omgewing, telefone is daar nie meer nie, want die kabels is gesteel. Selfone werk net as jy onder die ontvangs paal staan. So daar word geroep op die “boere-band” “Perdjie, Perdjie, Perdjie... kom in Perdjie, Perdjie, Perdjie…”

 

Perdjie is my broer Pietie se seun, en hy boer nou op die familie plaas Vlakfontein met sy vrou Lize, en twee seuntjies Klein Pietie en Kapan. Almal in die Karoo het ‘n noemnaam. Petrus Johannes is Pietie, Amelia is Koeks, Tobias Mostert is Toi, Willem Schalk is Boet, en Casparus is Perdjie ! Perdjie maak so tussen die skaap boerdery deur die lekkerste biltong en droëwors... dis wat ons soek!

 

Perdjie en Lize bly nou in die huis waar my Ma my skool gegee het in Sub A en Sub B. Ek was die enigste kind in die skool! Ek het natuurlik ook eerste en laaste gestaan in die klas. Ek, Ouma en Andanté moet eers kuier, en eet lekker skaap boud tjops met krummels vir middagete. Vir die van julle wat nie weet nie, in die Karoo is daar ‘n gesegde: “As jy lus kry vir groente, dan slag jy gou ‘n vark”. Lekker vol tjops en sommer wyn ook, is ons vleiskamer toe om biltong en wors te gaan pak en laai.

 

Lize se lekkerte is sondroog tamatie dip met olywe en kruie. Sy weet nou nog nie lekker weet wat om te noem nie, maar dis baie lekker saam met vars gebakte potbrood, beskuitjies, of by pasta. Ons stel so ewe voor sy moet dit ‘n ‘condiment’ noem. Lize laat weet ons gou sy weet nie wat ‘n ‘condiment’ is nie! Whatever, ons dit gaan noem, maak nie saak nie, ons het geproe dis lekker en ons soek dit vir ons Karoo Geskenke.

 

Oppad terug dorp toe, draai ons by Leeuwfontein in. Toe ek kind was het die van Heerdens daar geboer, en ons het speedboat op die dam gery op Nuwejaarsdag. Daar is nou vars bloed op die plaas. Marise en Barry Andrag. Marise is oorspronklik van die Vrystaat en maak baie lekker konfyt, en ons is juis opsoek na dit. Ongelukkig is dit droog in die Karoo, en vrugte het sy nie om konfyt mee te maak nie, maar sy het die labeltjies en die botteljies, so al wat nou kort is ‘n bietjie reën. Ouma bied sommer aan sy moet kom vye pluk daar by Koeks se dorpsboom!

 

Die tyd raak min in die Karoo, die vrou wat die lekker wilds salami maak, se salami is te lank. Sy gaan nou probeer om korter salami’s vir ons te maak. Ons koop al die beskuit wat Tannie Ella by die outehuis kom verkoop, en sommer al haar koekies ook. Nou soek ons ‘n vleisie om terug te vat huis toe, na die honger seuntjies wat ons agter gelaat het. Ons kry ‘n slagding by die dorps slaghuis, en sommer biejtie afval, pens en pootjies ook. Ek ry gou af in die dorp om die slagding te gaan haal, en in die voorstraat van Victoria Wes, waar daar nie eers parking spaces geverf is nie word ek afgetrek deur die poeliste van Britstown. “Waar is jou licence?” Ek: "In die outehuis." "Trek Af! Trek Af!" word ek beveel, en voor die Spar kry ek ‘n boete – die prys van ‘n slagding!

 

Ek verneem daarna, dat as die padpolisie van Britstown Victoria Wes inry, dan versprei dit soos ‘n veldbrand. Net jammer, daardie oplui het toe nie by my uitgekom nie. Wet van Transvaal is my voorland.

 

Die laaste aand moet ons in die Merino Steakhouse gaan eet. 'Bestel die Skaapnek', sê my broer. Voorwaar, hier kom ‘n hele skaapnek op die bord aan. Drie dae se vleis in Johannesburg! Nou het ons sommer padkos vir more ook. Daardie nag steek die weer op, en toe ons die volgende oggend die pad terugvat Sodom en Gomorra toe, reën dit in die Karoo!

 

Die pad terug deur die Vrystaat

Dit is ongelooflik wat reën aan die Karoo doen, my Pa het altyd gesê as jy mooi luister, kan jy die veld hoor groei. Binne drie dae is asvaal bossies omtower in ‘n groen tapyt! Orals langs die pad lê die water, en dit sif reën saggies. Ons ry Kambro Padstal langs, en verkyk ons aan al die ingelegde lekkernye. Ongelukkig is die mense Bloemfontein toe, so ons sal maar anderdag gesels.

 

Ons het klaar besluit vir op en af gooi van die pad is ons nie meer lus. By Christiana klim ons af van die N12 en ry op die rooi pad Vrystaat deur terug Johannesburg toe. Hertzogville, Hoopstad, Bothaville, Viljoenskroon, Vredefort. Die pad is nou maar stil – as daar slaggate is kan jy reg in die middel op die streep ry. Dis mielielande en sonneblomlande so ver die oog kan sien. Ons sien ‘n storm aankom op die horison – blouer as inkblou – en ek weet dis swaar reën hierdie. Gelukkig trek ‘n storm mos so in ‘n rigting, dat dit op die ou se plaas swaar reën, en die plaas net langsaan, stofnat is. Ons ry net die storm se punt raak – ek sit soos ‘n bobbjaan, kierts regop agter die stuur, hazards aan en trotseer die storm. Maar ek is ‘n boerkind, en ek weet reën is altyd welkom. Eintlik is dit asemrowend mooi – die groen van die mielies, geel van die sonneblomme en die blou van die wolke – en net ons op die pad.

 

Ons stop in Parys, Andanté skrop daar in ‘n padstal, maar my kop is vol van Karoo-goed, ek kan nie nou aan Vrystaat-goed dink nie. Die Vrystaat sal moet wag – sal moontlik verby die mielies en die sonneblomsade kyk, meer na die kersies van die Oos-Vrystaat. Kom ons los daardie LekkerBek vir ‘n ander dag.

 

Na Parys is ons terug op die blou hoofpad, ons gee vet, want ons huis in Johannesburg met die seuntjies, honde, katte en voëltjies wag vir ons. Lekker lê in jou eie bed en eet aan jou eie tafel!

 

Ons grootste probleem is om die honger seuntjies by die huis te oortuig dat al die lekkerte op die bakkie is vir LekkerBek, nie om te sit en peusel terwyl hulle deur die sportkanale flits nie! Maar ons het darm vir almal gesorg, so ‘n ekstra pakkie van Perdjie se wors en biltong, en ‘n olyf om aan te knibbel. Selfs die Rottweilers wat by die huis gebly het kry die lekker harslag en longe van die slagding. Lilu die kat is nie baie opgewonde oor hierdie plaasprodukte nie, sy piets haar stert en loop vererg weg. Sy verkies maar eintlik haar kos uit ‘n sakkie of blikkie – regte ou stads kat, sy!

 

 

Die Wilde Tuin

Ek is skaars ‘n week by die huis, en ek moet Wildtuin toe, of soos my maatjie Marie dit noem die “Wilde Tuin” Ons agt vroue maatjies stap al meer as 10 jaar saam die wilderness staproete. Ons ry hierdie jaar in ‘n bussie wat lyk soos ‘n taxi, en ek is aan die stuur. Ons sleep ook ‘n geleende waentjie - vroumense het mos baie goed. Die waentjie is bietjie geroes, en een moet altyd agter toe sit en kyk in die pad, indien die stang afbreek en ons die waentjie verloor.

 

Hierdie is nou nie ‘n LekkerBek soek toer nie, maar as ons stop vir petrol dan spring ek by die padstal in – en bekyk solank die wêreld. Daar is baie goed van orals te koop, maar ek soek mos nou Laeveld, of sogenaamd Mpumalanga. Ek vind by elke stilhou ietsie, Papaja Chutney, Mpumalanga Fire Chillie Sous, Gesnipperde Perskekonfyt, Marula Jelly, Sabie Koffie – so ja, daar is baie te vind in die Laeveld – dit gaan ‘n reis op sy eie wees. Daardie aand braai ons vrouens die lekkerste tjops, wors en braai broodjies in Pretoriuskop, en die Papaja Blatjang word opgesmul, en hulle vra vir nog.

 

Die Wilde Tuin is ruig en groen. Die wêreld is nat en Oom Leeu brul net in die verte, want eintlik is die Koning van die Diereryk mos maar ‘n kat, en katte het nog nooit van nat voete gehou nie. ’n Grys Renoster maak ons skrik, dat ons almal tegelyk onder ‘n bosserige boom inhol. Sjoe, darem minder erg as toe die Leeuwyfie ons laasjaar gestorm het. Verder kuier ons om die vuur en onder die sterre.

 

Ek kom terug huis toe met my paar “sampeltjies” en se vir Andanté – Ja nee, daar is verseker LekkerBek goed in die Laeveld. Maar eers moet ons Kaap toe...

 

Die Kaapse LekkerBek Reis

 

Ons goeie vriend trou in Franschoek, Ouma Ala (96) bly in die Kaap en om eerlik te wees, die Kaap roep ons, want ek weet daar is baie lekker daar.

 

Kaapstad

Ons huur ‘n woonstel in die Tuine, dis ‘n lekker basis, daar is ‘n kombuis en ons kan al die kante toe ry. Dit is sowaar ‘n klipgooi van my ou Hoërskool – Jan van Riebeeck. Ek kan die klok hoor lui en kan my Biologie klas deur die venster sien. ’n Duisend beelde flits deur my kop. Hoe ons koshuis kinders die Suid-Oos trotseer in Kloof Straat, met sulke sopbord hoedjies op pad Groote Kerk toe. Ek stap om die koshuis, wat ons geken het as “Die Sop”. Dit lyk nog nes dit gelyk het in die sestigs en sewentigs. Party goed verander ook nooit nie. Ek onthou hoe ek elke Woensdag 10 voor 6 by die tiekiebox gewag het dat my Pa van die plaas moet bel. Voor 6 uur was dit goedkoper om te praat. Met die eerste lui tel ek op, en as die sentrale sê: “Drie minute om” sit Oupa Boet met ‘n haastige groet die telefoon neer. Jy het nooit langer as drie minute gepraat nie.

 

Ek verken die hele buurte, Oranjezicht, Die Tuine, De Waal Park. Sien meer as wat ek ooit as koshuiskind in vyf jaar gesien het. Ons het net daardie tyd die bus gevat stad toe, en gaan melktert eet by Die Koffiehuis in Adderley Straat.

 

Die grootste probleem van die Kaap is dat al die boere en buurtmarkte op ‘n Saterdag is, so hoe werk jy nou jou pad deur op een Saterdagoggend, van Woodstock, na Tokia, na Stellenbosch, na Durbanville? Daar is net een oplossing, ons sal vir 2 Saterdae moet bly! Die eerste Saterdag aangetrek in trouklere, moet ons via Stellenbosch se Mark by Bosmans Crossing, troue toe. Dis nou amper soos die army sal sê, ‘n recce. Ek loer vinnig daardeur, en dit wat ek in belangstel sal ons volgende week die mense opvolg.

 

Die Swartland LekkerBek Reis

 

Darling

Ons eerste bestemming is die Swartland. My dogter Andanté, gebore en getoë in Johannesburg, was seker nog nooit in die Swartland nie. Ek ook lanklaas, moet ek sê.

 

Ons mik skuins teen die kus op, Darling se kant toe. Die wêreld is mooi, en daar is lanings bome wat Van Riebeeck seker nog geplant het, want hy het die Swartland sy naam gegee. Skielik is daar wingerd, en ons gewaar ‘n grondpad wat afdraai. Die pad word geskraap en ons stamp en sukkel oor die walle met ons gehuurde kar. Wat ons vind is fantasties, Groote Post Manor House en Landgoed op Darling Hills, met wingerde op die suidelike hange van die Kapokberg en Tafelberg wat in die verte vir ons loer. Die huis is gebou in 1808 en die plaas was eers befaamd vir sy melkboerdery. Die Pentz familie konsentreer vanaf 2001 net op wynbou. Is ons bly, want LekkerBekke verkies wyn bo melk! Die trekkers laai druiwe af vir die pars en jy stap tussen die vate deur na hulle ontvangs. Ons proe hier en ons proe daar, gedagtig aan die lang pad wat ons nog moet ry, en die laaste proe is De Groote Post Noble Late Harvest. Ai, maar dis te lekker, proe na perskes en heuning en die kleur herinner jou aan goue sonstrale, perfek! Kan julle vir ons Johannesburg toe stuur, 'geen probleem' is die antwoord. Met ons eerste Swartland aankoop onder die blad, “pleased as punch” soos die Engelse sal sê, reis ons voort. Yes, ons kan ‘n lekker wyn tussen die “swartland hills” uitruik!

 

Ons is op soek na ‘n Padstal wat ek êrens van gelees of gehoor het. Nou is dit op die neus af... ons swenk skuins weg Weskus se kant toe, vind toe ‘n padstal omtrent in Yzerfontein. Maar ons besluit net daar, dit is nou Weskus hierdie, en ons is eintlik op ‘n missie in die Swartland. Alhoewel die mense van Darling vir ons sê, hulle is in die Weskus, sit dit nie lekker by my nie... die Weskus is anderste in my kop, hierdie is vir my Swartland.

 

Ons ry terug in binneland toe, bestemming Darling. Ons eerste inry is by Darling Olywe. Op die oog af lyk dit vir ons meer soos ‘n beeste plaas. Pragtige geboue, en as jy instap is daar Olywe en Olyfprodukte van alle soorte en geure. Ons gaan sit aan by ‘n pratige ou hout tafel, amper soos in ‘n stal. Dit is ‘n Ma en Dogter span wat die spul bedryf, en ons proe groen olywe, swart olywe ,olyf jam, olyf chutney en nog ‘n spul ander olyf goed. Die nuutste is ‘n sjokolade olyf salami... ek is so bietjie gegril vir die gedagte, want my soettand het ek verloor êrens in my lewe.  Gelukkkig hou Andanté kop. Sy het as ‘n “designer” ‘n baie eenvoudige filosofie as dit by keuses kom. Eerstens, moet dit mooi wees, en dan moet dit lekker proe. Groot is die vreugde as iets mooi is, en dan ook lekker proe. As dit lekker is, maar die verpakking is nie mooi nie, sal sy sommer sê: “Ek hou van jou produk, maar jy sal ‘n ander label moet laat design”. Klaar gepraat, vir haar is ‘n lelike botteljie, met ‘n lelike labeltjie, nie ‘n opsie nie - maak nie saak hoe lekker nie!

 

Ons weet nou alles van die olyf, die pars, die boom, die hele sousie, nou kies ons wat in ons LekkerBek Geskenk moet kom. Darling Groen Olywe, wat so lekker loskom van die pit, Olyf en Chilli Tapenade – eintlik sag op die tong, en ietsie anders... Gekruide Kaasbolle in Olyfolie ingelê. Dis baie mooi en baie lekker! O gits, kan julle vir ons in Johannesburg aflewer? Konsternasie, hulle het nog nooit goed so ver gestuur nie. Ons is netso… moenie worry, ons sal organise.

 

In Darling self snuffel ons rond, maar dis meer Vetkoek en stuff, en ons kry sommer manne wat al 10 uur die oggend lekker op die stoep sit met ‘n bier en ‘n lekker stuk steak. Ons volg die bordjies na “Evita se Perron” toe. Darling is darem op die map gesit deur Pieter Dirk Uys, en dit moet ons sien. Dit is so kitch dat jy jou lag nie kan hou nie. CD’s wat in die bome hang soos blomme, ‘n fyn gespot met al wat leef en beef. Dit is ‘n destinasie op sy eie. Daar is mense wat eet, maar ons het darem al ‘n paar olywe en ‘n skootjie late harvest agter die blad so voort is ons in ons soektog na Swartland lekkerte.

 

Ek moet darem nou net verduidelik, ons is vreeslik puntenerig in wat ons soek. So as ons by ‘n plek instap en dan sommer weer uitstap, is dit nie omdat dit sleg was nie, dis net nie wat ons soek nie.

 

Kort duskant Darling, oppad Malmesbury toe is Darling Kelders, en daar draai ons in. Ons proe aan so ‘n paar rooi wyne, maar niks gryp ons nie. Vort is ons Malmesbury toe. Malmesbury het grote paaie wat ontmoet, en jou óf deur die dorp gooi óf, af van die dorp af gooi. Ons ry deur die dorp Riebeeck Kasteel se kant toe. Soos jy ry loer jy maar rond of iets jou aandag trek, en toe ons onsself weer kom kry is ons deur die dorp. Volgende ding is Malmesbury se kelders. Ons beter stop, ons is dan nou deur Malmesbury en ons het niks gesien of gevind nie. Ek sit teen die tyd lekker buite en beskou die omgewing, Andanté is by die kelders in, na so ‘n rukkie, hier is sy weer uit. “Hoe lyk dinge?” “Nee,wat... net nog wyn” en seker niks mooi genoeg na haar smaak nie.

 

Die Riebeeck Vallei

Ons laaste bestemming in die Swartland is Riebeeck Wes en Riebeeck Kasteel. As jy teen die bult uitry en die vallei ontvou so voor jou, dan weet jy sommer, hier is groot lekkerte. Shiraz land en Olyf land. Nou is ons honger, en wil eers eet. My Chef, John, wat saam met my by die Anton Van Wouw restaurant gewerk het, het ons vertel van ‘n lekker eetplek. Ons ry by alles verby, opsoek na die plek, nou kan ek nie eers die naam onthou nie. Maar ons kry dit nie. Stop moet ons stop, en ons kies ‘n plekkie met ‘n pragtige uitsig oor die vallei ,The Barn. Ons tafel maatjie is ‘n een-oog huiskat, maar ons eet patee, en dis nie katkos nie.

 

Nou moet ons spoed optel, want dis platteland hierdie en die mense tjaila vroeg. Af in die dorp na Riebeeck Kelders. Aangename verassing, en die Shiraz is baie lekker – daar het ons dit nou Riebeeck Kasteel Shiraz saam met ons lekker soete wyn. Happiness.

 

Ons karring op ‘n sinkplaat grondpad uit die dorp uit, agter iets aan wat Andanté raakgesien het. Dit is toe ‘n slaghuis op ‘n plaas. Die lekkerste vleis, en ons kry vreeslik lus, maar ons is nie in die vleisbedryf nie. Kyk rond, draai om, terug dorp toe.

 

Daar is ‘n huge kasteel op ‘n koppie wat op die dorp en die vallei afkyk. Eers ry ons in, en weer uit, want ons dog ons is nou in die wynkelder in. Toe draai ons om en probeer weer. Ja nee, hier is vir jou ‘n ding. Binne in die kasteel, Het Vlock Casteel, is ‘n proe kamer met olywe, alle geure en kleure, blatjang , jam, olyfolie, wyne en ek weet nie wat nog alles nie. Maar, ons is darem LekkerBekke van ouds, en ons weet wat ons soek. Onthou daar moet ‘n variasie wees en dit moet mooi wees en bowenal moet dit lekker wees.

 

Ons proe, proe en sommer vinnig besluit ons op Shiraz Dessert Dressing – mmmm lekker oor jou roomys, en toe gooi ek ‘n Boerejongen in my mond, en dit “pop” so van die lekkerte… Mmmmm nog lekkerder by jou roomys. Ons vat toe nog ‘n botteljie olyfolie, net in case. By die betaal slag lê daar tamaletjie, ek vrek ook tamaletjie, so lekker suur-soet. Nee wat, sê die vrou, dis die laaste een, vat dit sommer. Laat ek julle vertel, die lekkerste tamaletjie ooit! Ek soek asseblief nog, en sommer baie!

 

Nou wil Andanté na die Olive Boutique toe, ek is net so. “ Man watse Olive Boutique, dit gaan soos ‘n winkel wees, wat al die ander mense se goed verkoop” Nee, my kind het ‘n kop van haar eie, en op met ‘n steile bultjie is ons. Wel, haar naam is Juliana, uitgewyk van Johannesburg, en sy verkoop nie ander man se goed nie, maar maak haar eie, sommer so langsaan die winkel. Hulle beskuitjies is al op, seker na ‘n dag van mense wat hulle dik knibbel aan samples, en hulle vra vreeslik om verskoning. Dit pla ons nie, ons wil juis die produk self proe, nie die koekie wat gemaak word deur Bokomo of iemand nie. Die lekkerste Olyf Mosterd kry ons daar, Olyf Tapenade, en ek durf weer die Sjokolade en Olyf Salami aan, en die slag kry ek my kop daarom. Mmmmm, nogal lekker, en dit pas goed by ons ander produk keuses.

 

Ons saag vinnig om die berg na Kloovenberg toe, ons het dit vir laaste gelos, maar besef skielik dis na 4 uur, en hierdie is nie Johannesburg waar ons eers 4 uur die middag aan ‘n nuwe ding begin werk nie – hierdie is laag-lê land. Toe ons daar insleep, begin hulle toesluit en uitsleep. Gelukkig, is hulle diens georienteerd, en stap weer terug en sluit oop. Ons kan nou nie so lekker proe nie, net kyk, maar Kloovenberg se bemarking is goed, so ons sien baie van hulle produkte hier in Gauteng. Ons koop met ons oe, Kloovenberg Shiraz Sout, lekker ietsie anderste, en hulle Olyfolie, wat al orals pryse en medaljes gewen het.

 

Nou moet ons terug Kaap toe, gelukkig is die wêreld  daar mos maar eintlik klein, en jy ry nie ver nie. Ons ry agter deur Paarl, ek vertel vir Andanté, hierdie is nou Boland, so dis vir ‘n anderdag. Ons stop wel by ‘n padstal net om te sien of daar iets anders is, maar hulle loer ons ook so half en half oor die counter, want hulle is besig om op te cash. Nee wat, die Boland gaat nou soos ‘n klomp mossies in die boom sit vir die nag (en wyn drink) laat ons huis kry.

 

Die Kaapse Skiereiland

Die volgende oggend waai die Suid-Oos met mening. Ons plan is om almal wat ek op Stellenbosch se mark raakgeloop het op te volg en die wynlande onder die knie te kry. Ons het ook ‘n ete afspraak in Stellenbosch met Marilou (wat die lekkerste kos maak!) want ons wil later LekkerBek Kos Toere saam met haar doen.

 

Eers soek ons Stonehill se olyfplaas, ons is op instruksies op die Klipheuwel  pad,lLinks by die stopstraat, links na Durbanville, eerste grondpad regs, by die Oranje Skool regs, dan is daar ‘n Lavender Cottage... wat laat julle dink ons het nie GPS nie? Ons verdwaal vir ons tussen koeie en dinge dat dit laat raak. Ek bel vir Colleen van Stonehill, elke nou en dan, maar niks lyk vir haar of ons bekend nie. Ons besluit net daar om haar later in Durbanville te ontmoet, en werk onsself terug Klapmuts, Stellenbosch se kant toe.

 

Stellenbosch se berge is swart gebrand, en skielik begin dit sif rëen. Ek en Andanté het krulhare, so dit werk nie so lekker vir ons nie, maar ons is bly vir die berg. Marilou het allerhande idees van etes in die wingerd tot brunch op Tafelberg, en ons monde water net aan die gedagte. Ons sal hierdie stukkie lekkerte verseker verder ondersoek. Eers moet ons Anna-Helena, Jeanne-Luc en Lynne opspoor en die Wynlande deurwerk.

 

Die Wynlande is die een pragtige Herehuis en Landgoed na die ander, ek is seker die Konigin van Engeland, sal haar kasteel verruil vir so ‘n stukkie Kaapse grond. Ons snuffel deur elke padstal. Ek voel al soos ‘n padstal. Andanté soek suurvygies – ek sien net jam en wyn en jam en wyn. Ons vind darem vir Anna-Helena en Nicola wat die lekkerste dessert Dukkah maak, mooi verpak in blikkies met herwinbare karton daarom gedraai. Dit is lekker, gesprinkel op allerhande soet lekkernye en ons is gelukkig. Lynne en haar man maak “Rosey's Choppy Choppy”, ek het dit op die mark raakgeloop en ons het al ons proe botteljie opgeëet in ons woonstel. 'n Kombinasie van Feta, Chillie en Sondroog Tamatie – amper soos ‘n blatjang met bietjie lekker skop. Perfek.

 

Tussendeur, spoor ons ook Chefs@Work op. Ons het hulle produkte hier en daar in ons omwandeling raakgeloop. Hulle het lekker lang bottels, vet bottels, en hulle labels is mooi. Ons hoop en bid dis nie ‘n huge fabriek nie, maar tot ons groot verligting is dit nie. Daar is mense wat hulle lekker Chilli Olie, Herb Dipper en lekker Kaapse Vye maak. Ek was so bly oor die vye, want ons het nog nie ‘n vy in ons stash nie.

 

Laatmiddag kry ons vir Jean-Luc – Fransman wat in die Congo gebly het en nou is hy in Somerset Wes. Ons ry na sy huis toe, hy maak wat hy noem “My Pienk Bubbly”  La Vie en Rose. Ons moet darem eers proe voor ons kan besluit, en Jean Luc onthaal ons met sy wyn en kaas en daar loop sulke vet katte rond in sy erf. Ek en Andanté is versot op sy wyn, en dis nog mooi ook. Maar die son wil al sak en ons moet nog terug Kaap toe. Ons koop, en nog sommer ‘n bottel van sy Chardonnay ook, (dis vir die seuntjies wat wag in Johannesburg) en weg is ons in ons reg-op gehuurde motortjie. Skaars in die pad af, bel Jean-Luc, ons het die “Pienk Bubbly” wat ons aan geproe het vergeet, dis ons’sn. Yes, het jy al gesien hoe maak ‘n man ‘n U-Turn in ‘n regop karretjie? Hy staan in die pad met ons oop proe bottel – net so lig gekurk vir verder drink, en ons is maar te bly.

 

Nou, is ons darem honger geproe hier deur die Wynlande. Ek ry Gordonsbaai se hawe toe, daar is ‘n lekker eetplek op die hawe. Die wind is koud, en dis lekker warm en jolig in die pub. Hulle het ‘n Guiness promosie, en jy kan ‘n hoed wen as jy gelukkig is. Andanté kyk amper die Oom oorkant ons se hoed van sy kop af, en bestel Guiness, want sy wil ook so een hê. Ons eet die lekkerste vetste kalamari en vis in ‘n pan, met sommer nog knoffel ook by! Nou moet ons na die lekkerte terug Kaap toe. So deur die Kaapse vlakte sien ons die vlamme teen Tafelberg, net bokant Rhodes Memorial. Dit is skrikwekkend, lyk behoorlik asof die hel ontvlam het, en die wind waai.

 

Die volgende oggend word ons wakker, met die geraas van helikopters. Ek wonder of iemand wat baie belangrik is dalk by die Mount Nelson land? Maar, dis Tafelberg wat brand – die vlamme het om Duiwelspiek in die nag gekruip, aangeblaas deur die wind. Daar is drie helikopters wat in sirkels vlieg. Hulle kom skep water in die reservoir langs ons in die Tuine, vlieg die berg uit, en laat val die water op die vlamme. As hulle kolskoot tref, dan juig ons.

 

Met die konstante gedreun van helikopters bekyk ons ons “LekkerBek loot”  Ek: “Andanté, ons het ‘n probleem met die Wynlande – watse wyn gaan ons in die Wynlande Geskenk sit?” My dogter, en Parntner in die besigheid is nie net mooi nie, sy kan kreatief dink en doen. Sy vra my, “Waar is die Blaauwklippen Pad?” Daar sal ons die Wynland probleem oplos. Ek weet presies waar is die Blaauwklippen pad. Was nie verniet toentertyd student op Stellenbosch nie. Jy ry daar verby oppad Bikini Beach toe, nogals met jou ’59 Beeteltjie!

 

Wynland Hemel

Ons plan was eintlik Boland, maar ons ry nou maar via die Stellenbosch Wynlande na die Boland Wynlande. Vir Andanté is dit Grieks, vir haar is daar orals net wingerde en wyn. Via nog ‘n padstal of wat draai ons af op die Blaauwklippen pad wat ons oplei in ‘n pragtige vallei – bestemming Waterford Landgoed op Andanté se aanbeveling. Toe ons deur die hekke ry, en ek die plek aanskou, stop ek eers die kar, draai die spieeltjie so bietjie skuins, en sit lipstiffie aan. Vir so ‘n mooie plek moet jou lippe darem geverf wees!

 

Waterford is beautiful, olyfboorde, damme met eende wat swem en dan die lang aanloop na die hoof gebou, nuut, lyk dit my, en splintérskoon. Ons stap soos mense wat hoort en geld het. In die binneplein word ons vriendelik onmoet, en ons vertel vir die dametjie, ons het nie baie tyd nie want ons is op ‘n reis, maar ons wil die sjokolade en wyn paring proe. Ons mik nog so na die ander 7 wyne wat te proe is, maar ons moet nog oor twee bergreekse ry met die reg-op karretjie vandag, en dis nog nie eers teetyd nie. Sy bring vir ons 3 wyne met 3 blokkies sjokolade, daardie plattes, wat lyk asof dit ingevoer is van elders.

 

Dit werk so: Eers vat jy ‘n slukkie wyn, dan kort daarna ‘n happie sjokolade van die soort wat by die wyn pas, en dan weer ‘n slukkie wyn. Dan herhaal jy die proses met die ander. Eers, Kevin Arnold Shiraz... Mmmm, dis goeie wyn die, dan ‘n happie Masala Chai Donker Sjokolade – hierdie twee werk saam. Volgende is dit Waterford Cabernet met “ Rock Salt” Donker Sjokolade, sowaar jy kan die sout aan die sjokolade voel -  en dan die cherry op die koek – Waterford Natural Sweet Wyn met Roos en Malva Melk Sjokolade.

 

Voorwaar! Dit is verseker soos die Hemel moet proe! Ons is so opgwonde, ons verstik amper aan hierdie stukkie smaak sensasie. Wat ons wel weet, die wyn word hier gemaak, maar hierdie lekker sjoklade? Seker van België? Nee wat, dit word met die hand gemaak in Greyton, in die Overberg! Halleluja! Ons lek ons lippe af en weet, lekker bly maar lekker, en hier het ons dit gevind in die Blaauwklippen Vallei. Soos katte wat pas ‘n hele bak room geëet het, vat ons die pad – Boland se kant toe.

 

Die Boland (deel van die Breede Rivier Vallei)

 

Ons ry skuins deur Stellenbosch, ons wou nog ‘n paar ander plekke by ry, maar nou is dit nie meer nodig nie. Oor Helshoogte, net omdat dit lekker is, vinnig in by Fairview, skuins deur die Pêrel, en reguit deur Wellington. Ek wil konsuis oor Bainskloof ry, om dan net die Boland van bo af te beskou. (Dae daarna loop ons ‘n boer raak wat Organiese Wyn maak in Wellington, maar daardie dag het ons hom misgery).

 

Jy moet darem eenkeer in jou lewe Bainskloof oor ry – maar jy moet ook nie haastig wees nie, want dis mooi. Elke nou en dan moet jy stop, en net afkyk na die pragtige wêreld  wat in die verte voor jou lê. Anderkant af is dit weer die klowe en die berge en die stilte.

 

Tulbagh

Deur Wolseley, ry ons Tulbagh toe. Ek vertel Andanté hoe ons uit die koshuis in die Kaap gehardloop het met die aardbewing in Tulbagh, so ver het jy dit gevoel. Tulbagh is pragtig en ons snuffel rond in die dorp. Eet by die Paddagang, en vind uit daar is allerhande lekkerte in die omgewing – kaas, sjokolade, wyn, olyfolie en net wat jou hart begeer. Op daardie stadium raak die dag kort, en ons besluit om eers die Boland te los, want hierdie is nou al die Witteberge en na my mening weet ek nou nie meer so lekker watse streek hierdie is nie. Dis nie meer Boland nie en volgende kom die Koue Bokkeveld. Laat ons maar net rondkyk, en later besluit wie pas nou waar.

 

Ceres

Ons is haastig Ceres toe, want ons het gehoor van Baba wat lekker jam daar kook. Maar ons kan dit nie weerstaan om in te draai as ons iets lekker van die pad af sien nie. Eerste wat ons afdraai oppad Ceres toe, is 'n pragtige plek, nuut gebou. Andanté trippel behoorlik daar in. Maar ai, die olywe proe ene kerrie, en ons ken darem nou al vir olyf se kind. Ek het so netjies die van die olyf in die servetjie ontslae geraak. Toe is die wyn ook sommer nie vir my lekker nie. Volgende, sien ons in padstal. Toe die Tannie so aankom na my toe met die proeseltjie olyfolie in ‘n teelepel, kry ek so ‘n gril -  van kasterolie in ‘n lepeltjie -  en ek besef ek kan nie meer proe nie, die dag raak te lank.

 

Ons gee vet, Ceres toe, dit raak laatmiddag. Die pad is mooi, ons kry skaars gekyk, want skielik is daar reuse lorries. Seker ry hulle vrugte erens heen. Ceres is nie verniet vernoem na ‘n Griekse God van Vrugte nie. Ons vind vir Eileen, beter bekend as Baba in haar pers huis. Die voordeur staan oop, en daar kwaak ‘n padda om jou aan te kondig. Baba se huis is vol jam, en chutney, dis rakke op rakke van botteltjies van elke groote wat Consol kan maak. Jy proe in haar kombuis. En jy kan sien, in hierdie kombuis word gekook. Groot silver jam potte, sakke suiker en broodmeel, want sy is ook ‘n bo-baas vetkoek bakster! Ons is dadelik tuis. Ek ken so ‘n kombuis, ek het in een grootgword. Ons proe en gesels, en haar man, ‘n onderwyser kom ook dagsê. 'Baba', vra ons, 'kan jy vir ons pryslyste e-pos'. “Ja” kom die antwoord, “Ek moet net my seun vra om die computer te kom werk." Ja nee, ek hoor wat sy sê, kook en tegnologie is nie altyd slaapmaats nie.

 

Worcester

Ons slaap die aand in Worcester by my vriendin van Universiteit, Pannie en haar man Mossie. Ons was saam in Huis ten Bosch studente op Stellenbosch. Pannie kan nooit verstaan dat ek so besig is nie, ek is gedurig doenig met ‘n besigheid van ‘n aard. Sy bly al jare lekker rustig op Worcester, en kla net van die troues wat so hand uitruik. Sy vertel sy gaan nie meer nie, want sy is so moeg van die troues waar al die stoele “rokke” aan het! Mossie vertel ons van ‘n man op die dorp wat die lekkerste salami maak, en ons proe sommer uit sy yskas. Mossie bel hom daar en dan. Hy is in Panorama kliniek vir een of ander siekte, maar ons het mekaar se nommers, en sal weer praat.

 

Die Breede Rivier Vallei

 

Nuy Vallei

Die volgende oggend klim ons op Route 62 om die Breede Rivier Vallei klaar te verken, want as jy jou weer kom kry gooi Route 62 jou sommer in die Klein Karoo uit. Eerste stop Padstal... nou begin die padstalle al vir my eenders lyk, maar ons kry darem lekker vars suurvygies. Tweede afdraai Nuy Vallei, op aanbeveling van Mossie. Die Conradie familie het ‘n pragtige Kaaps Hollandse proe kamer langs die pad met ‘n wingerd prieël. Die blare is besig om te verkleur, en ons moet ‘n foto neem.

 

Klaas Voogds Vallei

Tweede grondpad na links, draai ons af: “Klaas Voogds Meander” lees dit. Klink vir ons lekker, ons meander mos. Dis ‘n vetplant maze... en ons ry nog bietjie aan. Volgende teken is “Rusticus of the Land”. Dit lyk lekker, en ons is daar in. ‘n Hond met ‘n baie lang onderkaak kom groet ons, en begelei ons na die kelder. Wat ons ontdek is perfek. ’n Familie wat volgens ou  tradisionele metode nog wyn maak. Ons proe “Wild Fermented Merlot” en die naam en die smaak en die bottel staan ons aan. Yeah! Ons grondpaadjie het ‘n juweel opgelewer.

 

Die vallei lyk baie aanloklik, en ons ry nog so ‘n entjie verder. Daar is grond te koop, en ons droom lekker drome van in ‘n vallei onder die Langeberge woon, met ons hele familie van Rottweilers. Ons sien padaanwysings na “The Olive Garden” en volg ons neus. Bo teen die koppie tussen die fynbos is daar iets, en ons ry in. Dit lyk na ‘n “week-end getaway”. Uit die kombuis kom ‘n vrou “You have an appoinment?” vra sy. Ons skud ons kop. Ons ry op ons neuse, ons het geen nikse appointments nie. “ Oh, ze gate was open, I help you”. Ons verduidelik haar ons missie, ons is op soek na olyfolie, lekker olyfolie. O ja, sy maak haar eie olyfolie, en olyfprodukte. Proe tyd, en haar man Ferdinand kom sit aan. Die beste olyfolie ooit! Die lekkerste olyf en rubarb konfyt ooit! Hulle is Belge wat deur die internet hierdie plasie gekoop het, kan jy glo?

 

Robertson

Ons is terug op Route 62, en dit wemel van die Harley Davidson’s, êrens is daar ‘n partytjie wat ons nie van weet nie. In Robertson proe ons weer rond en bont. Iemand gee ons ‘n chilli brousel wat blykbaar ‘n prys in die Kaap gewen het... yo,yo,yo, hy skop my amper uit my skoene uit. Gelukkig vind ons net daarna Le Grand Chasseur Portwyn. Ai, so lekker soet op die tong, en die bottel is pragtig. Lekker in ons skik met hierdie mondjievol lekkerte, gaan hierdie botteljie ook in ons Breede Rivier mandjie. Nou begin ons ernstig worry, hoe ons hierdie klomp wyn en kos terug in Johannesburg gaan kry?

 

Ashton, Montagu en Bonnievale

Ashton, Cogmanskloof en Montagu. Ek wil nie eintlik in Montagu gaan draai nie, want ek se vir Andanté dis eintlik al Klein Karoo, maar dis so naby, en ons is op reis. Maak ‘n draai by Montagu Droë Vrugte en Wyn Stalletjie, en koop ‘n reuse sak rosyne in allerhande kleure. Ons koop ook ‘n mooi mandjie wat kan toemaak, vir al ons produkte. Nou toer ons, want ons raak nou bang vir die gewig op die vliegtuig. Bonnievale is pragtig, blomme pad met wingerde. Ons kry egter nie wyn wat sê dit word in Bonnievale gemaak nie, alles het Robertson op die label.

 

McGregor

Ons moet McGregor sien, ek was nog nooit in my lewe daar nie. Dis baie mooi en baie rustig. Ek is so effens jaloers op die mense wat daar bly. Met die uit-ry slag, draai ons verkeerd in die kleine dorpie, en binne in ‘n squatter kamp. Ja-nee dog ek, dis nie net ons in Gauteng wat so ‘n gebroedsel op ons werf het nie. Terug, deur Du Toits Kloof ry ons Kaap toe, dit is môre Saterdag. Ons laaste dag en ons moet die kosmarkte deurwerk voor ons pad vat huis toe.

 

Die Moederstad

 

Voor ons die volgende oggend die Kaapse Markte aandurf, gaan groet ons eers vir Ouma Ala in Eversdal se ouetehuis. Sy is op 96, nogsteeds ‘n LekkerBek! Ons vat vir haar allerhande lekkerte van ons reis deur die Kaap. Sy is oorstelp, want sy vertel ons: “My kind, Ouma is altyd Honger!”

 

Ons eerste besoek is aan Durbanville se mark. Ek is mos nou nie eintlik ‘n “shopping centre” mens nie, ek stap rêrig liewers met my honde as wat ek “window shopping” doen. Die mark is binne-in Willowbridge se koop sentrum. Daar is baie lekker goed, maar ons soek net produkte wat nie bederf nie. Ons kry Cajun Spice en Turkish Delight, gemaak deur ‘n regte Turk. Proe nog olywe en ry Woodstock “Old Biscuit Mill” se mark toe. Hier, gebeur ‘n ding. Ons kry parkering omtrent kort duskant De Waal Drive. Gelukkig het ons ‘n klein reg-op karretjie. Die plek wemel, dis brood en wyn en kos en alles wat lekker is. Dit is verseker ‘n Kaapse LekkerBek uithangplek, hier kom jy vir lunch, nie vir proviand nie. Op hierdie stadium van die wedstryd is ons opsoek na ligte lekker goed – ons vind tuisgebakte koekies, pesto (wat ongelukkig ‘n yskas soek), lekker vars hanepoot druiwe en ‘n granaat om huis toe te vat. Nou is ons honger, koop ‘n lekker plat Italiaanse brood met Parma Ham, Rokette, Parmesaan en Balsamic Reduction, skrop vir ons ‘n plek onder ‘n eina boompie uit en eet met ons hande. Te Lekker!

 

Ons moet nog Tokai se Organiese Mark toe gaan, ons ry in sirkels, dan is ons in ‘n woud, en dan is ons amper oppad Houtbaai toe. Elkeen beduie ons in ‘n ander rigting. Ons kry ‘n trop bobbejane in die pad en vrywilligers wat die verkeer beheer. Een van die “Friends of the Baboon” vrouens beduie ons presies. Ons was al daar, net te vroeg omgedraai! Toe ons weer daar kom is ons te laat vir die mark!

 

Ag wat, no problem ons ry Kalkbaai toe! Kalkbaai se hawe is choc en block van mense en karre. Dis ‘n mooi dag in die Kaap. Ons kry ‘n man wat ons in die kleinste denkbare parkeerplekkie in help. Hy beduie my om te draai en se my nogals “Werk nou saam, Werk nou saam!” Daar is gerookte snoek te koop, maar ons stap eers ‘n draai in die vissershawe. Toe ek terugkom is daar net soutsnoek oor, die vrou sê my : “Het ek jou nie gesê die goed loop nie?” Te vinnig geloop vir my! Ons drink wyn en eet slap chips, ons moet lughawe toe. Ek gee die man van die parkering ‘n ordentlike tip, hy kyk so af en sê “Net-so Net-so”.

 

Nou ja, net-so, net-so, nou-nou vlieg ek en Andanté terug Johannesburg toe met die hele Kaap in ons mandjie.

 

 

Ons LekkerBek Reis  is ver van klaar!